© Jorgan Harris

… en hoe paddas weer prinse kan word (wat hulle nog eintlik altyd was)

1. Inleiding

Die lang verwagte en omstrede DSM-5 is hier. Die DSM-5 (wat die afkorting is vir die Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders, Edition 5) is die Bybel van psigiaters, mediese dokters en sielkundiges se diagnoses van geestesversteurings en word gepubliseer deur die APA (American Pcychological Association). So word daar sedert 1952 pogings aangewend om mense te diagnoseer en te plaas in kategorieë van versteurings. Sedert 1952 tot vandag het die DSM gepoog om mense in ‘n boksie te plaas en is die boksies konstant verander en aangepas om die kompleksiteit van menswees te probeer klassifiseer. Hoe meer boksies daar geplaas word, hoe meer chaoties word dit. In 1952 was daar sowat 106 boksies. In 1968 is die DSM-II vrygestel met 182 boksies. So is homoseksualiteit in die DSM-II as ‘n versteuring beskryf, maar in 1980 is daar gestem met ‘n klein meerderheid dat dit inderdaad nie ‘n versteuring is nie en het dit weer uit die DSM-III geval. Met die jare saam is die getal versteurings sedert die DSM-II net uitgebrei. Die getal moontlike sielkundige versteurings het net meer en meer geword. Toe reeds het daar stemme opgegaan oor die verskil tussen diagnoses in die VSA en die res van die wêreld. Intussen het die boksies in die DSM-III gegroei tot 265 boksies.

Die DSM-III is hersien in 1987 met 292 boksies.

In 1994 het die DSM-IV sy verskyning gemaak met 297 (boksies) versteurings. Weliswaar net vyf meer, maar die telling neem toe.

Om jou ‘n idee te gee (‘n keur uit die DSM-5)

(Jy hoef hierdie gedeelte slegs te lees indien jy krities is en wonder waarna ek verwys. Andersins kan jy oorslaan na die volgende sub-opskrif).

Een van die grootste punte van kontroversie is dat daar nie meer ‘n diagnose bestaan soos rousmart nie. Alhoewel die simptome van rousmart presies soos dié van depressie lyk, is daar in die DSM-IV ‘n onderskeid gemaak, aangesien die verlies van iemand na aan jou gesien is as ‘n natuurlike rouproses. In die DSM-5 word dit nou deel van depressie en gaan jy dalk eerder nou chemies behandel word as om deur jou natuurlike rouproses te gaan waardeur elke mens natuurlik moet gaan aangesien die dood deel van die lewe is.

Die nuwe klassifikasie van Post Traumatiese Stres Versteuring (PTSV) gaan myns insiens ook sterk onder skoot kom. PTSV is ‘n toestand wat ontstaan na die blootstelling aan ‘n traumatiese gebeurtenis waar jou lewe of fisiese integriteit bedreig is, of waar jy so ‘n gebeurtenis ervaar het waar iemand anders se lewe of fisiese integriteit geneem of bedreig was. Volgens die DSM-IV is die individu se reaksie op hierdie gebeurtenis een van hulpeloosheid, vrees en ‘n gevoel van gruwel. Hierdie punt het nou uit die DSM-5 verdwyn. Dit mag nou wees dat iemand wat tot nou toe met PTSV gediagnoseer is, getrou sy of haar medikasie en terapie ontvang en dan skielik nie meer aan PTSV ly nie. Of erger nog: iemand mag skielik nou PTSV hê, bloot omdat die kriteria verander.

Nou het ons ook ‘n Ontwrigtende Gemoeds Disregulasie (OGD). Kinders wat vloermoere gooi, is nie meer stout nie, maar het ‘n sielkundige probleem. Dit mag veroorsaak dat ‘n kind wat gehoor wil word, of gefrustreerd is oor sy skooltas wat weg is, of net bloot stout is, verder vol medikasie gepomp gaan word. Net omdat daar so ‘n diagnose is

Orgie-eet (my vertaling vir “binge eating”) is nog ‘n nuwe versteuring. As jy jouself meer as 12 keer in drie maande kapabel eet, het jy ‘n probleem. Niemand vertel ons hoe die APA by hierdie som uitgekom het nie en hoeveel jy nou tydens ‘n Orgie-eet moet eet nie. Dit is ook nie duidelik of dit ‘n diagnose op sy eie moet wees en of dit ‘n simptoom is van ‘n ander stoornis nie. Ooreet kan egter ook die gevolg van ‘n depressie wees (volgens die kriteria van die DSM-IV).

Dit is myns insiens geen verrassing dat daar weinig tot geen veranderinge aangebring in die diagnose van Major Depressie en Algemene Angs is nie. Dit is die twee versteurings wat verreweg die meeste in psigiatriese kontekste figureer. Die argument aan die een kant is dat hierdie twee steurnisse al so goed nagevors is, dat daar nie veel daaraan getorring moet word nie. Daar is soveel geld hierin belê deur farmaseutiese maatskappye. Dit bly my steeds terg hoe daar besluit is aan hoeveel van die kriteria jy aan moet voldoen om hiermee gediagnoseer te word. Daar is in die ou DSM-IV nege kriteria vir depressie. As jy aan enige vyf of meer van die kriteria voldoen, word jy met Depressie gediagnoseer. Daar is ses moontlike simptome vir angs. As jy aan enige drie of meer voldoen, word jy met angs gediagnoseer. Wie het bepaal aan hoeveel van die simptome jy aan moet voldoen om gediagnoseer te word? Sê nou maar jy voel ongelooflik depressief (een van die kriteria vir depressie) maar jy ly nie aan een van die ander nie, is jy nie depressief nie. Is jy dan nou nie klinies depressief nie? Dit is tog vreemd dat met elke diagnose volgens die kriteria jy ten minste aan die helfte van die moontlike simptome moet ly, om gediagnoseer te word. Die APA kon nie ooreenkom oor hoeveel simptome dit nou sou neem om dit ‘n versteuring te noem nie. Maar die wet van gemiddeldes het hier die oorhand gekry en net soos met demokrasie, sal die helfte plus een of die meerderheid bepaal wie gaan regeer. Ons sal maar moet wag om te sien hoe die DSM-5 hierdie tameletjie gaan oorbrug.

Die veel geroemde Bipolêre Gemoedsversteuring (in die volksmond – Manies Depressiewe Versteuring) is steeds daar. Dit gaan nou die Bipolêre Spektrum Versteuring genoem word (BSV). Dit wil voorkom asof die verskil tussen Bipolêr 1 en Bipolêr 2 gaan verdwyn en dat daar eerder besluit gaan word oor die ernstigheidsgraad van BSV.

Asperger-sindroom verdwyn, hierdie mense word nou gediagnoseer as iemand met ‘n Outisme Spektrum Versteuring (OSV). Netso verdwyn Outisme as ‘n versteuring en word almal ingewoel onder die kategorie OSV.

Verslawing is nog so ‘n tameletjie. Is die persoon verslaaf of net afhanklik van sekere middelle? Word verslawing werklik veroorsaak deur die middelle in die substanse, of word dit veroorsaak deur die dopamien wat dit in die brein vrystel? Net soos dwelms gaan dobbel in die DSM-5 ook ‘n verslawing wees. Gaan dit dus steeds oor alkohol, nikotien of watookal? Wat is dan die verskil tussen Gedragsverslawing (GV) en Chemiese Verslawing (CV)? Net soos met dobbel, kan welsynswerk, soos drank en dwelms ook verslawend raak, omdat dit dopamien in die brein vrystel. Dit kan selfs verslawend raak om ‘n ander motoris op pad voor jou toe te laat! Gaan dit dus oor die middel of gaan dit oor die gevoel wat dit in die persoon veroorsaak? Is onttrekking regtig fisies of is dit emosioneel? Ek hoop die DSM-5 kan dit aan ons verduidelik.

Wat is psigose? Is iets soos skisofrenie iets wat nie in ons verwysingsraamwerk inpas nie? Of nie by die APA se model van wat ookal normaal is inpas nie? Sê nou maar die “skisofreen” wat beweer hy is Jesus, Mohammed, Buddah of wie ookal is werklik die geroepene? Ons weet hopeloos te min van iets soos sogenaamde skisofrenie. Ons moet onsself afvra wat realiteit regtig is.

Ekskoriasie (om vel van jou liggaam af te krap), is ‘n nuweling – maar naelbyt en tande kners is afwesig. Daar word nie gevra of dit dalk net simptome van ‘n ander versteuring kan wees nie. Ons weet nog nie waar dit gaan word nie, maar myns insiens is dit net nog ‘n boksie om die individu in te kategoriseer.

Nog ‘n nuwe versteuring is Opgarings Versteuring (OV) (Hoarding Disorder). Hoewel OV nog nooit in die DSM opgeneem is nie, word dit gesien as ‘n vorm van Obsessief Kompulsiewe Versteuring (OKD). My vriend Karel, is ‘n tipiese Opgaarder. Tog het hy onlangs ‘n pragtige hek gebou vir iemand uit die materiaal wat hy opgegaar het. Hy gaar egter sy goed op dat dit buite sig van sy vrou is. Karel weet dit nog nie, maar hy is nou sielkundig gesond, maar hy gaan iewers in Mei een oggend wakker word met die diagnose van ‘n sielkundige versteuring en sal waarskynlik op medikasie moet gaan. Want die APA het so besluit.

Daar is selfs nou iets soos ‘n Olfaktoriese Verwysing Sindroom (OVW), wat verwys na die vrees om sleg te ruik.

En so kan ons wonder watter vreemde diagnoses nog vir ons wag.

Wat is ‘n sielkundige versteuring nou regtig?

Ons wil mense binne ‘n boksie plaas, maar ons kry nie regtig antwoorde oor wat die boks nou regtig is nie? Is die vraag om in die patologie-model vasgevang te bly? Moet sielkundiges soos medici met wit jasse in ‘n hospitaal rondloop en met selfone vir patologie soek en krisisse hanteer soos om ‘n selfdoodkrisis te hanteer? Of is selfdood meer ‘n keuse as ‘n krisis? Karel se kwessie laat die vraag wat ‘n sielkundige versteuring nou regtig is. Het Karel nou ‘n versteuring omdat hy goed opgaar? Het die kind met die OGD ‘n probleem omdat hy vergeet het waar hy sy tas gesit het? Het Daantjie ‘n probleem omdat hy so goed kan fokus om ‘n TV-speletjie (en ‘n hele paar Rand) te kan wen? Is Oscar Pistorius werklik skuldig, of het hy ‘n PTSV?

Daar kan ook vrae gevra word oor kultuur-, ras- en geslagsverskille. Is iets wat in die VSA as ‘n “versteuring” gesien word, noodwendig in ander kulture ‘n “versteuring?” So byvoorbeeld word skisofrenie nou herbenoem na Dopamien Wanregulasie Versteuring (DWV), maar in Japan gaan dit blykbaar ‘n Integrasie Versteuring genoem word.  Dit impliseer dat die Japanese nie na die chemiese wanbalans wil verwys nie, maar bloot na sielkundige kwessies. Dit kan dalk lei tot groter begrip van mekaar. Dit mag vir ons as Westerlinge na ‘n versteuring klink as daar ‘n bees geslag word by die begrafnis van iemand. Selfs Lobola mag deur ons as vreemd beskou word. Ons moet ook verstaan hoe ander kulture dinge integreer wat ons nie verstaan nie. Dit is so noodsaaklik om te verstaan waar die ander kulture vandaan kom. Die DSM word deur die APA opgestel. Beteken dit dus dat dit deur die res van die wêreld, met hulle eie kulturele verskille, as ‘n soort van ‘n Bybel beskou kan word?

Volgens die DSM-IV kan ‘n probleem net ‘n probleem wees wanneer dit jou werk-, sosiale- of enige ander area’s van funksionering negatief beïnvloed. Dit is nie duidelik of hierdie idee in die DSM-5 gaan figureer nie. Dit mag ook ‘n probleem wees wanneer dit ander mense negatief raak. Maar dit mag dan juis die ander persoon se probleem wees. Juis die Franse filosoof Jean-Paul Sartre het gereken dat die hel eintlik ander mense is.

Dalk is die oplossing om enige sielkundige probleem volgens grade van erns te kategoriseer, naamlik: lig, matig en ernstig. Dalk is dit ‘n oplossing vir ons probleem om ‘n ligte opgaarder te wees, ‘n matige of ernstige opgaarder. Wat ookal die kriteria hiervoor mag wees voorsien ek dat daar gou ‘n paar opgraderings van die DSM-5 plaas gaan vind om ‘n probleem soos hierdie te probeer oorkom.

Dit laat my vrae vra oor die relevansie van die DSM hoegenaamd. Maar voordat ek hierby uitkom, moet ek eers die kwessie van persoonlikheidsversteurings uitklaar.

Persoonlikheidsversteurings

Ek voorsien dat persoonlikheidsversteurings al hoe meer ‘n doring in die vlees van praktisyns gaan word en binnekort nie meer gaan in pas nie. Wat is ‘n persoonlikheidsversteuring? Wat is die maatstaf waarmee ons dit meet? Wat is persoonlikheid regtig? Is iemand in sy of haar menswees so stukkend dat herstel nie moontlik is nie? Is so ‘n persoon vir ewig gedoem om ‘n psigopaat (Antisosiale Persoonlikheidsversteuring – APV) of ‘n Narsissis (NPV) te wees? Wat is persoonlikheid in elk geval? Hoe definieer ons dit? Het dit nog ‘n plek in die DSM? Hoe het dit gebeur dat sekere persoonlikheidsversteurings soos Afhanklikheids Persoonlikheidsversteuring (APV) nie meer daar is nie? Dit blyk tans of die rede hiervoor bloot net ‘n gebrek aan navorsing is en dat niemand geïnteresseerd is om hierdie versteuring na te vors nie. Miskien is jy net so gefrustreerd met die afkortings soos ek. Waarvoor staan wat nou? Is APV ‘n Antisosiale Persoonlikheidsversteuring of ‘n Afhanklikheids Persoonlikheids-versteuring? Of dat die Histrioniese Persoonlikheidsversteuring ook nie meer daar is nie? Nou is ons, lank na haar dood, vir Marlyn Monroe ‘n verskoning verskuldig omdat die magtige APA gereken het sy is in haar diepste wese histeries sonder enige dieper inhoud – maar nou is daar niks verkeerd met haar nie. Dit bloot as gevolg van ‘n gebrek aan navorsing. Sy mag dalk later weer ‘n diagnose ontvang as iemand belang stel om verdere navorsing hieroor te doen. Maar hierdie versteurings is ook nou nie heeltemal uit die DSM gelaat nie. Daar is een of ander ‘asblik’-kategorie waarin dit steeds rond hang.

Gelukkig is daar genoeg navorsing gedoen oor die Grensgraad Persoonlik-heidsversteuring (GPD) of in Engels “Borderline Personality Disorder” om prinses Diana (wat juis die padda op die balkon van die Buckingham paleis moes soen) lank na haar dood net so in haar boksie te laat, ongeag haar omstandighede.

Kan dit wees dat ‘n mens in sy of haar wese gedoem is om siek te wees? Of probeer die APA dit te versag met hul kriteria van matig, gemiddeld tot ernstig om hierdie probleem te systap? Gaan ons dalk besef dat die persoon met die Obsessief Kompulsiewe Persoonlikheidsversteuring (OKPV) dalk maar net ‘n Obsessie Kompulsiewe Versteuring (OKV) in ‘n ernstige graad is. Of dat Grensgraad Persoonlikheidsversteuring (GPD) met hul intense vrees vir ver-werping, maar net ‘n ernstige graad van angs is?

Die versteurings wat weggekom het

Diegene wat hulself beseer en hulself nie dood probeer maak nie, asook die seksverlaafdes is tans vry gespreek. Ouers wat hulle kinders ge-aliëneer het is tans ook vry. Diegene wat aan internet speletjies verslaaf is, is vry. Maar hulle is bloot vry as gevolg van ‘n tekort aan navorsing en kan dalk in die afsienbare toekoms siek wees. Dalk kan daar in die toekoms verdere diagnoses ontstaan soos Facebook Verslawing (FBV), Farm Ville Verslawing (FVV) Winkel Trollie Woede (WTW), Restaurant Woede (RW) en wat nog meer. Dalk kan Marilyn Monroe, na verdere navorsing, weer as versteurd gesien word.

Is dit dalk tyd vir ‘n nuwe denkraamwerk of ‘n paradigma?

Dalk is dit tyd om weg te beweeg van die proses om versteurings in boksies te plaas en dan die boksies aan te val of om dit weg te probeer neem.

Hierdie diagnoses word nou al hoe meer en ook meer kompleks. Skielik is daar nuwe boksies, nuwe diagnoses en oues val weg. Die DSM stelsel gaan steeds van die uitgangspunt dat sekere mense siek is en dat hierdie “siekte” beveg moet word. Dit het dalk tyd geword dat ons van hierdie versteurings af beweeg. Daar word nie vir ons vertel waarheen ons moet beweeg nie. Die afwesigheid van depressie is nie dieselfde as die teenwoordigheid van geluk, positiewe emosies en betekenis in die lewe nie. Hierdie kwessies word nie in die DSM-5 aangespreek nie.

Die verskyning van die DSM-5 kom reeds in ‘n tydperk waar die sogenaamde Positiewe Sielkunde (met baie vertakkings en name) al hoe meer veld wen. Hierdie denkrigting gaan van die standpunt af uit dat daar geen fout met enige iemand is nie. “Jy is geskape met alles wat jy nodig het, om suksesvol te wees”, is die motto volgens sekere van hierdie denkrigtings. Dit vra eerder wat ons goed laat voel, laat funksioneer, laat floreer. Dit beteken ook nie dat geluk die afwesigheid van depressie is nie, maar positiewe sielkunde is iets heeltemal op sy eie.

Dalk moet die APA eerder vir ons ‘n gids saamstel met diagnostiese kriteria vir Smaking (Savouring), Dankbaarheid, Sielvolheid (Mindfulness), Optimisme, Veerkragtigheid (Resilience), Lewenslustigheid en soveel meer.

In plaas daarvan om iemand te etiketteer met byvoorbeeld depressive of as ‘n monster, ‘n moordenaar of wat ookal en dit te behandel, kan ons eerder die positiewe kwaliteite, wat “onder die maatemmer” begrawe is, uitgrawe en dit tot ons voordeel gebruik. Wanneer jy aan die positiewes in jou lewe bou, sal die negatiewes vanself verdwyn.

Die fokus hoort dus nie te wees op wat verkéérd met die mens is nie, maar eerder op dit wat rég is met die mens. Dit gebeur ook wanneer daar vrae gevra word oor wat die positiewe intensie agter gedrag was, eerder as om die gedrag self te veroordeel. Dit vra dalk van ons, as die publiek, om nie te oordeel nie, maar om te vra na die intensie, die positiewe intensie agter die gedrag van mense wat tans in die nuus is. Al was die gedrag ook hoe verkeerd, daar was nog altyd ‘n positiewe bedoeling agter dit.

Dalk het hulle gedoen wat hulle gedink het die beste is, met die hulpbronne wat hulle gedink het hul oor beskik op daardie tydstip. Dalk was hulle net so beperk in hulle gedagtes dat hulle gedink het dat dit hulle enigste uitweg is.

Dis wanneer ons besef dat ons tog eintlik almal steeds prinse is – almal volmaak geskape op sy eie manier.

Wanneer ons dit verstaan, kan ons die wêreld ‘n beter plek maak. ‘n Beter lewe skep.

Naskrif

As ek hierdie argumente hierbo in die hof sou moes bewys, sou ek aanvoer dat ek nie weet nie. Ek weet regtig nie meer of dit ‘n padda of ‘n prins is nie.  Of die prinses wat ‘n padda in ‘n prins verander het, meer van ‘n padda was as wat die padda ooit kon wees nie, of dalk meer van ‘n prins as wat ‘n prins ooit kan wees nie. Die finale keuse lê steeds by jou. En by jou alleen. Die hel is nie ander mense nie, behalwe as jy gaan toelaat om dit jou hel te maak deur jouself in een van hierdie baie boksies te plaas.

Dit bly jou keuse. Jy het altyd keuses en jy kan kies of jy ‘n padda of ‘n prins wil wees. Dit is jou keuse.

Bronne

  • Burke, A (prof). Lesing gelewer op 16 Maart 2013: DSM-5: Back to the future. Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kliniese Hipnose (SAVKH), Pretoria.
  • Harris, Jorgan. 2011. NLP – Ontgin die briljantheid in jou. Griffel Media. Kaapstad.
  • Bullyonline.org
  • Wilkipedia.com
  • Psychsystems.net
  • Abcnews.go.com