“Besin oor jou huidige seëninge – waarvan elkeen baie het – nie in jou verlede se ongelukken, waarvan alle mense sommige het nie.” – Charles Dickens, ‘N Kersfees Carol en ander Kersfees geskrifte.

Hoe voel jy oor jou verlede? Jou verlede bestaan uit herinneringe. Om op al die negatiewe dinge uit die verlede te fokus versterk jou huidige gevoelens van ongelukkigheid. Om op dankbaarheid in die verlede te fokus, versterk jou huidige gevoelens van positiwiteit.

 1. Die woord dankbaarheid

Volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) is dankbaarheid ʼn gevoel van erkentlikheid (waardering), wat voldoening (tevredenheid) gee.

  2. Sosiale wetenkap

Volgens vooraanstaande Amerikaanse Sielkundiges bestaan daar ʼn noue verband tussen dankbaarheid en vergifnis en daar is ook ’n noue ooreenkoms of verband tussen dankbaarheid aan die een kant en menslike geluk in die algemeen. ʼn Gelukkige mens is ʼn dankbare mens en ’n dankbare mens is ʼn gelukkige mens. Dankbaarheid word volgens hulle so gedefinieër dat jy bewus is van goeie dinge wat met jou gebeur en dat jy dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. Jou vriende en familie weet jy is ʼn dankbare mens, omdat jy altyd van tyd tot tyd ʼn punt daarvan maak om jou dankbaarheid te wys en dit uit te spreek.

3. Hoe kan ons dus weet hoe dankbaar ons is?

Hieronder is ’n voorbeeld van die Dankbaarheidsvraelys wat ontwikkel is deur twee vooraanstaande Amerikaanse navorsers, Michael McCullough en Robert Emmons, wat omvattende navorsing gedoen het oor beide dankbaarheid en vergifnis.

Gebruik die skaal hieronder en dui aan in hoe ‘n mate jy met elke stelling saamstem:

1 = Verskil Sterk
2 = Verskil
3 = Verskil in ʼn mate
4 = Neutraal
5 = Stem in ʼn mate saam
6 = Stem saam
7 = Stem geheel en al saam

  1. Ek het so baie in die lewe om voor dankbaar te wees.
  2. As ek alles moet opnoem waarvoor ek alles dankbaar is, gaan dit ‘n baie lang lys wees.
  3. As ek na die wêreld kyk, sien ek nie veel om voor dankbaar te wees nie.
  4. Ek is dankbaar teenoor ‘n hele klomp mense.
  5. Soos wat ek ouer word, vind ek dat ek baie meer dankbaar is vir mense, gebeure en situasies in my lewe.
  6. Dit kan nogal taamlik lank vat voordat ek weer dankbaar voel oor iets of iemand in my lewe.

Tellings:

Hier is die resultate van 1 224 volwassenes  moet verstaan wat onlangs aan ‘n opname deelgeneem het, wat as leidraad kan dien hoe jy jou eie telling moetverstaan .

As jy ʼn telling van 35 of laer behaal het, is jy in die onderste kwart (0-25%) van die steekproef in terme van dankbaarheid – baie lae dankbaarheid.

As jy ʼn telling tussen 36 en 38 behaal het, val jy in die onderste helfte (26 -50%) van die mense wat die vraelys ingevul het – lae dankbaarheid.

As jy ʼn telling tussen 39 en 41 behaal het, is jy in die boonste kwart (51-88%) – hoë daakbaarheid.

As jy ʼn telling van 42 behaal het is jy in die boonste een agste (12%) – baie hoë dankbaarheid.

Bitter min mense behaal laasgenoemde telling.

Dames se tellings is effens hoër as die van mans en ouer mense behaal hoër tellings as jonger mense.

Byvoorbeeld:

• Ek het ʼn huis.
• Ek kan my verband afbetaal.
• Ek het ʼn motor.
• Ek is gesond.
• Ek het kos om te eet.
• Ek het vriende en familie wat vir my lief is.
• Ek het lopende warm water en koue water.
• Ek het skoon en netjiese klere.
• Ek kan maklik op my eie beweeg (loop).
• Ek het nie nou pyn nie.

4. Dankbaarheid, grafies voorgestel:

5. ‘n Perspektief uit die hipnoterapie

Dr. Michael Yapko (Kliniese Sielkundige) en wêreldberoemd vir die gebruik van hipnose om depressie te behandel, skryf:

”… wanneer mens op iets fokus, versterk jy dit in jou bewussyn en is jy besig om jouself daarmee te verbind.

As ons mense se aandag op iets vestig – of die aandag daarvan weglei – het dit diepgaande gevolge op die kwaliteit van hul eie gewaarwordinge. Om mense se aandag te vestig op wat verkeerd is met hulle – of wat reg is met hulle – veroorsaak redelike betekenisvolle verskillende gevoelens in mense.“

(M. Yapko: Treating Depression with hypnosis p. 5)

6. Fokus

Daar is 12 swart kolletjies in die figuur hieronder, maar jou brein laat jou nie toe om almal tegelyk te sien nie
Eers as jy begin fokus, kan jy hulle op verskillende plekke begin sien.

 

Kom ons dink nou aan die storie oor die skoenfabriek wat twee bemarkingsagente na ʼn sekere gebied in Afrika gestuur het om besigheidsmoontlikhede daar te gaan ondersoek. Nadat hulle bietjie rondgekyk het, het een van hulle ewe mismoedig ʼn boodskap na die fabriek teruggestuur: “Situasie hopeloos. Niemand dra skoene nie”. Die ander een was weer baie opgewonde oor wat hy alles waargeneem het en sy boodskap het so gelui: “Wonderlike besigheidsgeleentheid. Niemand het skoene nie”.

Daar is nog ‘n wonderlike storie uit Amerika: ’n Indiaanse hoofman was besig om vir sy stamlede te vertel van twee honde in sy binneste: die een is ’n wit hond wat goed en dapper is en die ander een ’n swart hond wat wraaksugtig en kwaad is. Beide honde is besig om tot die dood toe met mekaar te veg. ’n Jong vegter van die stam wat nie vir die einde van die storie kon wag nie, vra: watter een gaan wen? Die hoofman antwoord: “die een wat ek kos gee”.

Kom ek vertel jou nog ‘n storie uit Amerika. Die volgende verhaal illustreer hoe twee mense verskillend na dieselfde situasie kan kyk vanuit verskillende perspektiewe:

Eendag het ʼn welgestelde pa sy seun na die platteland gevat met die doel om sy seun te wys hoe arm mense lewe. Hulle het ʼn paar dae spandeer op ʼn plaas wat die pa beskou het as ʼn baie arm gesin. Op pad terug huis toe vra die pa vir sy seun: “En wat het jy alles geleer?” Die seun het gesê: “Dit was eenvoudig net wonderlik, Pa.” “Het jy toe gesien hoe arm mense lewe?”. vra die pa “O ja”, antwoord die seun. “En wat het jy alles geleer?”, vra die pa. Die seun het geantwoord: “Ek het gesien dat ons net een hond het, maar hulle het vier. Ons het ʼn swembad in die middel van ons tuin, maar hulle het ʼn hele rivier sonder ʼn einde. Ons het ingevoerde lampe in ons tuin, maar hulle het elke nag die helder sterre. Ons het ʼn patio in ons binnehof, maar hulle het ʼn hele horison sonder einde. Ons woon op ʼn erf in die stad. Hulle het landerye wat eindeloos uitstrek. Ons het bediendes om ons te bedien, maar hulle dien mekaar. Ons het mure rondom ons erf om ons te beskerm. Hulle het vriende wat hulle beskerm. Ons koop ons kos in die supermark. Hulle kweek hulle kos op hul eie grond”. Die pa was eenvoudig net sprakeloos! En die seun het afgesluit: “Baie dankie dat Pa vir my geleer het hoe arm ons is.”

7. Waarom moet ons dankbaarheid beoefen?

Gedurende die afgelope dekade is daar honderde studies gedokumenteer wat die sosiale, fisiese en sielkundige voordele van dankbaarheid aantoon. Die navorsing dui daarop dat hierdie voordele vir omtrent enigiemand beskikbaar is wat dankbaarheid beoefen, selfs te midde van teëspoed soos ouer mense wat met die finaliteit van dood gekonfronteer word; vroue met borskanker en mense wat met kroniese spiersiektes worstel. Hier volg sommige van die top navorsinggebaseerde redes om dankbaarheid te beoefen.
•     Dankbaarheid bring vir ons geluk: Navorsing deur Emmons en Sonja Lyubomirsky, deskundiges op die gebied van geluk en baie ander wetenskaplikes het aangetoon dat dankbaarheid een van die mees betroubare metodes is om geluk en lewenstevredenheid te vermeerder. Dit verhoog ook gevoelens van optimisme, vreugde, plesier, entoesiasme en ander positiewe emosies.
•     Aan die ander kant verminder dankbaarheid gevoelens van angs en depressie.
•     Dankbaarheid is goed vir ons liggaam. Studies deur Emmons en sy kollega Michael McCullough het aangetoon dat dankbaarheid die immuun sisteem versterk, bloeddruk verlaag, siektesimptome verminder en dat ons minder gepla word deur pyne en skete. Dit spoor ons aan om meer te oefen en beter om te sien na ons gesondheid.
•     Dankbare mense slaap beter: Hulle slaap langer ure per nag, raak makliker aan die slaap en voel meer uitgerus as hulle die volgende oggend wakker word. As jy beter wil slaap: tel eerder jou seëninge as skape!
•    Dankbaarheid veroorsaak dat ons meer veerkragtig (resilient) is. Daar is gevind dat dit mense help om te herstel van traumatiese gebeure, insluitende Post Traumatiese Stres.
•    Dankbaarheid versterk verhoudinge: dit laat ons meer toegewyd voel teenoor vriende en geliefdes. Wanneer sulke maats dankbaarheid met mekaar deel, voel hulle meer tevrede in hul verhouding. Dankbaarheid mag ook aanleiding gee tot ʼn meer eweredige verspreiding van huishoudelike take en take in die verhouding.
•    Dankbaarheid bevorder vergifnis – selfs tussen geskeides na ʼn egskeiding.
•    Dankbaarheid spoor ons aan tot “diensbaarheid vorentoe” – dankbare mense is meer ingestel om hulpvaardig, onselfsugtig, liefdevol en deernisvol teenoor ander te wees.
•    Dankbaarheid is goed vir kinders. As jongmense tussen 10-19 dankbaarheid beoefen, ervaar hulle ʼn groter tevredenheid met hul lewe, meer positiewe gevoelens en ʼn hegter band met hulle gemeenskap.
•    Dankbaarheid is goed vir skole. Studies het aangetoon dat dankbaarheid studente beter laat voel oor hulle skool. Dit laat die leerkragte beter voel en dat hulle meer bevrediging uit hul werk put. Hulle voel minder emosioneel uitgeput en die moontlikheid vir uitbranding is ook verminder.

Dankbaarheid skuif jou fokus weg van dit wat ontbreek (kortkom) in jou lewe en beweeg jou nader aan die baie seëninge wat reeds in jou lewe teenwoordig is.

8. Hoe kweek ons dankbaarheid?

Is jy van nature ʼn pessimis? Neem gerus kennis van die volgende stelling: Die voordele van dankbaarheid is nie net beskikbaar vir sommige mense met ʼn natuurlike (aangebore) ingesteldheid tot dankbaarheid nie. Om dankbaar te wees is ʼn vaardigheid wat ons deur oefening kan ontwikkel, om verdere voordele daaruit te put. Volgens navorsing is die volgende die mees effektiewe maniere om dankbaarheid te kweek:

•     Hou ʼn dagboek van dankbaarheid aan. Skryf drie of vyf dinge neer waaroor jy dankbaar is elke dag of elke week. Neem veral bewuste besluite wat jy kan doen om meer dankbaar te wees en skryf dit neer. Skryf oor besondere dinge en spesifieke mense wat jou dankbaar laat voel. Dink ook na oor hoe jou lewe daaruit sou sien as jy sonder die dinge en mense sou wees, eerder om dit as vanselfsprekend te aanvaar. Teken ook aangename verrassings aan (dinge wat jy glad nie verwag het nie). Sodoende versterk ons die goeie dinge in ons lewe.
•   Skryf ʼn dankbaarheidsbrief aan ʼn belangrike persoon in jou lewe. Navorsing het aangetoon dat dankbaarheidsbriewe ʼn stewige en langdurige uitwerking het op die mate geluk wat mens in die lewe ervaar.
•    Geniet die goeie dinge in jou lewe. Moenie net oppervlakkige aantekeninge maak oor die skoonheid en plesier wat elke dag na jou kant toe kom nie. Begin om dit werklik weer van vooraf te geniet deur jou weer opnuut daar in te leef.
•    Fokus op intensies (bedoelinge). As jy ʼn geskenk ontvang of as iets goed in die algemeen met jou gebeur, probeer jou indink hoe iemand doelbewus probeer het iets goed vir jou te laat gebeur en dikwels ʼn opoffering moes maak om dit vir jou te laat gebeur.
•    Leer jou kinders om dankbaar te wees. Jy kan reeds vroeg in hulle lewe vir hulle dankbaarheid leer.
•    Sien die positiewe dinge raak. Kyk na wat elke dag gebeur ten spyte van oorweldigende negatiewe dinge wat dalk reeds gebeur het. Selfs klein positiewe dingetjies kan baie waardevol wees.
•    Raak bietjie meer “geestelik” en dalk ook ʼn bietjie meer “filosofies” oor die lewe. Dink na oor jou eie sterflikheid, aangesien dit jou meer dankbaar maak vir die lewe wat jy tans geniet. Dink aan die baie verskillende mense wat sin en betekenis aan jou lewe verleen.

9. Die beoefening van dankbaarheid kan geluk met tot 25% verhoog

Sielkundige navorsing het aangetoon dat mense se geluksvlakke redelik stabiel bly op die langtermyn. Of jy nou die lotery gewen het of ʼn klomp geld verloor het, sal jy na ongeveer 3 maande weer vanself terugkeer na jou gewone vlak van geluk. Hierdie bevindinge bring in ʼn sekere sin probleme mee vir mense wat hul vlak van geluk permanent wil verhoog. Jou geluk het ʼn sekere herstelpunt (“set point”) waarheen jy outomaties terugkeer nadat jy vir ʼn tyd blank baie gelukkig of baie ongelukkig was. Die goeie nuus is: Navorsing toon egter aan dat hierdie herstelpunt wel beduidend verhoog kan word.

10. Tel jou seëninge teenoor jou laste:

Dr. Robert Evans beskryf ʼn navorsingsprojek wat hy en sy kollega met 3 groepe persone oor ʼn tydperk van 10 weke uitgevoer het (Emmons & McCullough, 2003):

1. die eerste groep is versoek om 5 dinge neer te skryf waaroor hulle dankbaar is of wat in die laaste week gebeur het. Hierdie groep is genoem: die dankbaarheidstoestand;
2. die tweede groep is versoek om 5 daaglikse irritasies neer te skryf wat hulle die vorige week ervaar het. Hierdie groep is genoem: die irritasietoestand;
3. die derde groep is versoek om eenvoudig net 5 dinge neer te skryf wat die vorige week gebeur het. Hierdie groep is genoem: die kontroletoestand.

Voorbeelde van dinge wat mense in die dankbaarheidstoestand neergeskryf het:

• ʼn sonsondergang deur die wolke;
• die voorreg om te kan lewe;
• die vrygewigheid van vriende.

Die irritasietoestand:

•   belastings;
•   probleme om parkeerplek te kry;
•   my kaas en macaroni het verbrand.

Voor die eksperiment begin het, moes deelnemers ʼn daaglikse dagboek aanhou waarin hulle hul gemoedstoestand, fisiese gesondheid en algemene gesindheid aangeteken het. Hierdie inligting is gebruik om bogenoemde te vergelyk met verdere inligting wat verkry is nadat die eksperiment voltooi is.

Mense in die dankbaarheidstoestand groep het ʼn volle 25% beter gevoel – hulle was meer optimisties oor die toekoms, het beter gevoel oor hulle lewe, en het 1.5 uur per week meer geoefen as mense in die irritasietoestand groep of mense in die kontroletoestand groep (omdat hulle meer energiek gevoel het).

Kan al hierdie veranderinge te wyte wees aan ʼn sonsondergang deur die wolke? Dr Emmons was self ook verras deur hierdie bevindinge, omdat daar ook redes is waarom die beoefening van dankbaarheid nie altyd so goed vir mense is nie en selfs nadelig kon wees.

Om byvoorbeeld te fokus op dankbaarheid herinner ons aan wat ons aan ander skuld. Dit kan ons weer herinner aan ons afhanklikheid van ander en verminder die gevoel van persoonlike beheer. Om te dink in terme van dankbaarheid kan ons laat fokus op dit wat ons aan ander skuld. Studies het getoon dat mense nie daarvan hou om iets aan ander verskuldig te wees.

Is dit net die effek van positiewe vergelykings, of is dit werklik dankbaarheid?

Ten spyte van hierdie redes waarom dankbaarheid nie altyd geluk kan verhoog nie, blyk dit dat dit wel gebeur. Maar is die die voordeel van ‘n dankbaarheidstoestand bloot aan om te dink hoe ons beter af is as ander?

In ‘n tweede studie, baie soortgelyk aan die een hierbo beskryf, het Emmons en McCullough een van die beheermaatreëls verander. In plaas daarvan om mense te vra om enige gebeure van die week neer te skryf, is mense gevra om te lys waar hulle beter af was as ander. Die idee was dat mense in hierdie toestand positiewe vergelykings maak, maar nie noodwendig in terme van dankbaarheid dink nie (hoewel dit nie uitgesluit kan word nie!)

Weereens, het die resultate getoon dat diegene wat dankbaar was, aansienlik gelukkiger was as diegene wat positiewe vergelykings tussen hulself en ander gemaak het. Dit is dus nie ‘n verrassing dat diegene wat dankbaar was ook gelukkiger was as dié wat gefokus het op hulle daaglikse probleme.

Dankbaarheid kan diegene met chroniese gesondheidsprobleme help

‘n Goeie punt van kritiek op die eerste twee studies was dat dit uitgevoer is op voorgraadse studente. Dit is baie goed om die geluk van jong, gesonde studente te verhoog, maar wat van mense met ernstige, chroniese gesondheidsprobleme?

In ‘n derde studie het Emmons en McCullough volwassenes gewerf wat neuromuskulêre versteurings gehad het, Hierdie versteuring is dikwels die vertraagde gevolge van die infeksie wat deur die poliovirus veroorsaak het en deur polio-lyers ervaar word. Alhoewel dit nie lewensbedreigend is nie, kan die toestand ernstige spierpyn en spieratrofie veroorsaak. Mense met hierdie toestand het ‘n goeie rede om ontevrede te wees met die hand wat die lewe hulle toegedeel het.

In hierdie studie is ‘n dankbaarheidstoestand vergelyk met ‘n beheerkondisie waarin deelnemers oor hul daaglikse ervaring geskryf het. Na die 21 dae-studie is deelnemers aan die dankbaarheidstoestand meer tevrede gewees met hul lewens oor die algemeen. Hulle was ook meer optimisties oor die komende week en op ‘n kritieke punt, het hulle ook geslaap. Mense wat goed slaap is oor die algemeen gesonder en gelukkiger as mense wat nie goed slaap nie.

11. Slotsom

Die beoefening van dankbaarheid as ‘n voorbeeld, kan ons ook daaraan herinner wat ons aan ander mense verskuldig is. Dit kan op sy beurt ons weer herinner aan ons afhanklikheid van ander mense en ons gevoel van persoonlike beheer verminder, asof ons welsyn van ander mense afhanklik is. Om in terme van dankbaarheid te dink en dan te dink wat ons ander mense skuld, beteken dat ons dit glad nie geniet om skuldig te voel teenoor ander mense nie. Maar ten spyte van hierdie voorbehoud, is die voordele van dankbaarheid altyd veel meer as die nadele.